Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS – SONDAG 1 FEBRUARIE 2009

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans, en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word.

Oudio is ook beskikbaar via die web: www.sarl.org.za; klik op ARMI en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie, en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is (Naam en Roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB, asook op 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

In die nuus vandag:

‘SARL-NUUS PER E-POS’ KRY BAIE ONAFGELEWERDE POS

NUWE ADMINISTRATEUR IS MAANDAG OP KANTOOR

KLUBS WORD AANGEMOEDIG OM ‘N OPENBARE INLIGTINGSBEAMPTE AAN TE STEL

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

‘SARL-NUUS PER E-POS’ KRY BAIE ONAFGELEWERDE POS

As u in die verlede SARL-nuus per e-pos ontvang het en dit nie meer in u posbus ontvang nie, mag dit wees dat u nie die stelsel opgedateer het met u nuutste e-posadres nie. Die webmeester ontvang baie onafgelewerde pos wat ‘n goeie aanduiding is dat ontvangers nie die stelsel opdateer wanneer hulle van e-posadresse verander nie.

Besoek http://www.sarl.org.za/members/admin/MailDat.asp om u e-posadres na te gaan – of om dit op te dateer – of ‘n makliker manier is op die tuisbladsy op ‘News’ te klik en kies ‘News by e-mail’.

Doen asseblief u deel om ons te help om ‘n doeltreffende e-posafleweringsdiens vir SARL-nuus daar te stel.

NUWE ADMINISTRATEUR IS MAANDAG OP KANTOOR

Dit is totsiens aan Vee Antal en welkom aan Mariska Faasen. Vee het bedank en haar dienste by die SARL verlede Vrydag beëindig. Die Raad en lede van die SARL bedank Vee vir haar dienste en wens haar voorspoed toe vir die toekoms.

Mariska Faasen neem by Vee oor en begin met haar take op Maandag. Ons heet Mariska welkom by die SARL en glo dat sy dit sal geniet om by die NARS te werk. Nuwe kantoorure sal van middel Februarie in werking gestel word. Die kantoor sal Maandae tot Donderdae oop wees van 08:00 tot 16:00 en op Vrydae van 08:00 tot 11:00. Die res van die Vrydag sal bestee word aan take wat die administrateur uit die kantoor neem.

MOENIE DIE SARL SE NASIONALE KONVENSIE MISLOOP NIE

Die SARL se Nasionale Konvensie, wat van 23 tot 26 April 2009 in die groter-Kaapstadgebied plaasvind, moenie misgeloop word nie. Programbesonderhede is nou op die web beskikbaar en sal in die Januarie/Februarie-uitgawe van Radio ZS gepubliseer word.

Lede buite hierdie gebied word aangemoedig om vroegtydig hul reisreëlings te tref om sodoende gebruik te maak van afslagpakkette wat deur verskeie lugdienste ‘aanlyn’ aangebied word. ‘n Lys met bed-en-ontbyt-akkommodasie word tans opgestel en sal eersdaags op die web beskikbaar wees.

KLUBS WORD AANGEMOEDIG OM ‘N OIB (OPENBARE INLIGTINGSBEAMPTE) AAN TE STEL

Tydens die President se Net verlede Sondag, is inligting oor ‘n nuwe bemarking en Openbare Skakeling-inisiatief vir amateurradio bekend gemaak. Dit word die Openbare Inligtingsbeampte (of OIB)-netwerk genoem.

Klubs word aangemoedig om ‘n OIB aan te stel as deel van ‘n nasionale span wat deur die nasionale liggaam, die SARL, koördineer word, maar elkeen dien sy of haar klub en gebied.

Die doelwit is die bevordering van amateurradio deur die verspreiding van inligting aan die media en die breë gemeenskap oor amateurradio, die SARL en die OIB se plaaslike klub.

Die SARL nooi klubs om ‘n gemotiveerde persoon te soek om by die netwerk aan te sluit en ‘n OIB te word vir amateurradio, hulle plaaslike klub en die nasionale liggaam, die SARL.

Die netwerk sal sy eie webbladsye hê met baie inligting, PowerPoint-aanbiedings wat gebruik kan word in aanbiedings, oudiolêers, mediaberigte en foto’s van amateurradio-in-aksie.

Die SARL werk aan ‘n OIB-handboek wat riglyne sal verskaf en die OIB oplei. Die SARL sal gereelde kortkursusse per telekonferensie aanbied. SARL-nuus sal ook materiaal beskikbaar stel wat vir plaaslike koerante aangepas kan word – ons beplan selfs radioflitse wat gratis as ‘n openbare diens aankondigings sal uitsaai.

Besoek ClubTalk op www.sarl.org.za om ‘n aansoekvorm af te laai om by die OIB-netwerk aan te sluit.

HAMNET GAUTENG-SUID PROVINSIALE VERGADERING

HAMNET Gauteng-Suid hou ‘n algemene vergadering om 11:00 SAT op Saterdag 21 Februarie by die Nasionale Amateurradiosentrum by Radiokop. Die gasspreker is Henk van Elst van Rampbestuur. Ná die vergadering word ‘n bring-en-braai by die ontspanningsarea gehou. As u by HAMNET of noodkommunikasie betrokke is en meer wil weet hoe om ‘n verskil te maak, sluit op 21 Februarie by die NARS by ons aan. Kontak asseblief vir Chris Gryffenberg per e-pos na zs6cog@gmail.com vir meer inligting.

KOMPETISIENUUS

Die Antieke Draadloosvereniging (AWA) se GG-aktiwiteitsdag word oor die naweek van 7 en 8 Februarie gehou. Die AWA nooi almal wat in gelykgolf belangstel, jonk of oud, goed of sleg, vinnig of stadig, om by hulle aan te sluit vir 24 uur van gelykgolfaktiwiteit op 20-, 40- en 80 meter. Die aktiwiteitsdag begin om 12:00 SAT op Saterdag en eindig 24 uur later. Daar is vyf inskrywingskategorieë en rapporte bestaan uit ‘n RST verslag, die operateur se naam en ruitverwysing of QTH.

Die eerste been van die SARL se HF-velddag met foon- en gelykgolfwerking op 10 tot 160 meter sal op die lug wees oor die naweek van 14 en 15 Februarie. Die velddag begin om 12:00 SAT op Saterdag 14 Februarie.

Die reëls van beide kompetisies kan gevind word in die 2009 SARL-Kompetisiehandboek. Gooi asseblief u 2008-Kompetisiehandboek weg.

KLUBNUUS

Die Oos-Randtak hou 'n snuffelmark om 08:00 tot 12:00 SAT op Saterdag 7 Februarie 2009 by die klubhuis in Plantasieweg, Springs. Om 09:00 is daar ‘n demonstrasie van aanlyn-publikasie van amateurradiofoto’s en om 10:00 word die takvergadering gehou. Tafels is beskikbaar teen R20,00. Met veilige parkering en die onderdaksnuffelmark is almaal goed beskut teen die elemente. Inroepe vind op die 145,675-Oos-Randherhaler plaas.

Die Overberg ARK hou hulle AJV om 12:00 SAT op Saterdag 7 Februarie by die Hermanus-observatorium.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal kalm wees. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees.

15 en 20 m is die beste keuse vir DX met moontlike 15- en 20 m-openinge na Indië vanaf 14:00 SAT. Kontakte met Nieu-Seeland gaan uitdagend wees. Om 09:00 is daar moontlike 20 m-openinge na Australië. Kontakte met Peru is baie onwaarskynlik. Brasilië kan waarskynlik op 15 en 20 m vanaf 18:00 gewerk word. Vanaf ongeveer 18:00 is daar moontlike kort, swak 20 m-openinge na Europa. Kontakte met die VSA se Ooskus is op 15 m vanaf 18:00 moontlik. 10 MHz lyk laatmiddag en na sononder bruikbaar vir die Morsekode- en digitale entoesiaste.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande, byvoorbeeld tussen ZS5 en ZS6, te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate tussen ZS6 en ZS1 lewer. Selfs 20 m word beter voor oggendtee. Saans is 80 m die beste keuse. Met die somer hier kan donderstorms en statiese ontladings uitdagend wees.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF u steeds kan verras. Skakel u stel aan, luister en roep CQ om seker te maak dat u deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

Ten slotte:

DAGBOEK VAN GEBEURE

7 Februarie – Oos-Randsnuffelmark, Overberg ARK AJV;
7 en 8 Februarie – AWA se GG-aktiwiteitsdag;
14 en 15 Februarie – SARLse se HF-velddag;
15 Februarie – Sluitingsdatum vir inskrywings vir Tinus Lange-toekennings;
21 Februarie – PIC-kursus in Durban, HAMNET Suid-Gautengvergadering;
21 Maart – BACAR-lansering;
24 – 26 April – SARL Nasionale Konvensie, Kaapstad.

SARL-nuus nooi klubs en individue om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n PODCAST-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Dennis, ZS4BS, saamgestel is en deur Jannie, ZR6PHD, geredigeer.

Dankie dat u geluister het. 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003